INNIBOS FEES (2013)

WOORD EN BEELD

Gedigte (Poems) - JOHANN LODEWYK MARAIS

Beelde (Sculptures) - JACO SIEBERHAGEN

                                                                                    Skepping
Gelaserde staal, verf en hout
275 x 852 x 110 mm

 

SKEPPING

Opportunis van die lig,
verlaat die pit!
En: skud pitte uit
0raloor vir onwetendes
om te verdig
tot pittige dinge –
Die son hou aan
en op: word ’n kool
– pitklein –
wat die niet in val
soos een van baie
in ’n groot kolk. 

In die geheel-en-al
waar báie min is
– minder en meer as niks –
soek die wind na ’n woord
om mee te begin.

Innibos
Gelaserde staal, verf en hout
740 x 295 x 110 mm

 

INNIBOS

Drie vroue dans ’n Vrydagles toe-oë, in capulanas
wat rooi en swart en plegtig pas
en die ritme van hulle dye hou. 

“Hý wou sien,” sê Dan Dlamini
en sy vinger wys na my
wat volg hoe die vroue stof trap
in ’n besielde raserny.

Die aanstigter slaan op ’n trom:
al skriller en meegevoer
skuifel die voete uit die kring
en word die ritueel volvoer.

Volgende skuif
Gelaserde staal, verf en hout
491 x 365 x 491 mm

 

NELSPRUIT

Ons gesels land en sand terwyl ’n boom
sy heerlikheid teen die eerste sterre
openbaar en ek in rou gedagtes
versink wanneer ons die kontinent noem:
al hierdie swoel dae wat ons deurdink,
word soos die pitte van ’n botterklapper
op ’n mrabaraba-bord rondgeskuif
tot één hand alles mooi kan kleinkry.
Dan dwing ons terug na soeter woorde,
dié wat stam uit wyshede en ontroer.

Sefapano
Gelaserde staal, verf
900 x 385 x 135 mm

 

SEFAPANO

Kruis
na die
opslaan
ons oë
waarheen ons
op die berg
ditapole
mekopu
poone
dikgoho
dipodi
dipere
dikgomo
vir reën
gaan bid
sing
met ’n stok
agter die moruti
werksklere
mans in
komberse
vroue met kopdoeke
stofbesaai
deur die suurveld
beweeg
begin die stoet
kom hulle bymekaar
van Hlomisa
aan die voet