
INSPIRATION 2015 - 2021

Die menslike gees het die ongelooflike vermoë om reeds die lente raak te sien terwyl alles nog in winter grou geklee is; die merkwaardige geloof om te wil vlieg terwyl realiteite uitsigloosheid verkondig en te dans saam met die opkomende son al is die dag onseker.
Reisiger
Wanneer die somerson roep
en jy op die rug van die wind wil ry,
gaan jy met vele vlerkesprei.
Daarom vra ek mooi
Bly tog jou eie skadu gooi.
Danser
Die oggendstond dans ligvoet
op die maat van n Minuet.
Staan op en kom dans saam!
Dit het goud in die mond.
Vlieënier
Voëlvlug my vriend,
is vlieg
nie vlug.
Net ek
My gedagtes is gestensil
deur gister se skadus,
ou patrone waarlangs ek
slaafs moet skuifel.
Net ek kan nuwe stensils knip
en suikerbekkie roep
nuwe patrone waarlangs ek
vry kan vlieg.
Mens
Die mens se is
n oogwink bestaan,
tussen kom en gaan
Genade gewis.
Rietduiker
Die rietduiker leer my
om soms geduldig te bly
en drup drup te droog
voor ek verder kan vlieg.
Sanger
Kom my tjommie,
tokkel daar n moppie
lat die Alibama en die rietkooinooi
hakiesdraad helemal stomp ka sing.
Dromer
Uit die leegte
styg n stippel
al hoer en hoer
tot daar waar drome
vol word.
Vrede
Vrede se oog fontein nooit
waar jou voete dwaal,
maar borrel daar
waar jy jou oog
elke oggend rig
Somer
aan die ander kant van winter
vladder somer uitbundig
vergete die kou
die grou
die yster klou
aan die anderkant van winter
wag somer getrou
Gesprek
woorde vlerkklap opdringerig
in die arena van my kopgeveg
waar elkeen aanspraak wil maak
op heerskappy van my tuin
en so my kyk bepaal
Lente
Wanneer winter grou
my kyk wil sluier
en alles verdof
kom fluister lente nektar
sodat ek weer eens
sy soet kan smaak
Voëls van die Hemel
Jeug vlerk jou
om die onbekende in te spoed
na waar ontdek en ervaar welig groei.
‘n Wêreld waar môre nie bestaan,
want die voëls van die Hemel
word daar elke dag versorg.
Slaap
dagreis se tam
word op duisend vlerke
tot by nagrus se lafenis gedra
om veerlig sag
deur eenbedrywe te sweef
en met daeraad nuut gebore te word
Hoop
hoop
‘n vierletter woord
wat skadus skel
Mans Genoeg
Staan jou man
word gemaan,
maar wanneer is ‘n man dan ‘n man
wil ek wonder
vuurtrappers se voetval
vonk alles tot as
vredemakers se sagte tred
val op dowe ore
Staan jou man
word gemaan
die man wat ek is, is mans genoeg
wil ek reken